Frances Frans


Ek is Frances, `n 56-jarige weduwee van Pacaltsdorp in die Weskaap. Ek is die jongste van elf kinders van wie twee reeds oorlede is. My kinderjare was baie gelukkig en my ouers het my op die hande gedra. Met verloop van tyd het ek kennis gemaak met die seer van die lewe wat my later tot op die randjie van selfmoord gedryf het. Ek het van kleintyd af `n passie vir skryf gehad en het deur die jare notatjies gemaak as ek een of ander trauma deurgemaak het. Dinge soos die verlies van my ouers en siblings, mans wat uitstap, die dood van my baba, bankrotskap, dobbel en alkoholverslawing. Ook was ek `n gereelde pasiënt van neuroklinieke asook `n eenmalige opname in `n rehab. Ek moes cope met erge rugpyn wat my soms aan `n bed vasgekluister het asook die mesdood van my man na nege maande van getroude lewe. Ek was `n ooggetuie hiervan. Die een ramp na die ander het gevolg en ek was verskriklik depressief.

`n Preek oor die radio een aand het my daarvan weerhou om selfmoord te pleeg. Ek het die prediker ontmoet en my lewe het handomkeer verander. My sluimerende talent as skrywer het nou begin ontwaak onder sy bekwame leiding en aanmoediging. Ek moes die knie buig voor ons Skepper en erken dat ek Hom gruwelik versaak het. `n Passie wat ongekend was het meester van my geword en ek het net begin skrywe. My eerste boek, Ek moet praat, het vorm begin aanneem. Dit handel oor elke denkbare pyn wat `n vrou kan deurmaak. Terselfdertyd het ek begin met Die vroulike alkoholis. Hierin draai ek nie doekies om oor die stigma wat aan `n vroulike alkoholis kleef nie, asook die vernietigende uitwerking daarvan op haar gesin. Ook praat ek breedvoerig oor hoe ek met behulp van ons Heer en Saligmaker, Jesus Christus, die hel van verslawing kon oorkom. Skeidsmure  tussen my en God handel oor die dinge in ons lewens wat maak dat ons nie ons deurbrake ontvang nie, die oplê van hande en baie gebede ten spyt.

Eers was dit vir my baie moeilik om `n uitgewer te kry. `n Vriendin wat op hoogte is van hierdie tipe dinge, het Groep 7 aanbeveel. Ek is glad nie spyt dat ek haar raad gevolg het nie. Die personeel het my van dag een af met respek behandel. Hulle is baie professioneel en baie geduldig met ouens soos ek wat `n voet in die deur van die skrywerswêreld probeer kry. Ek haal my hoed af vir hierdie groep mense !! As gevolg van hulle noue betrokkenheid en empatie het ek uiteindelik die vrugte van my harde werk gepluk. Die boeke wat ek verlede jaar geskryf het, is gelyk vrygestel. Aan ons Hemelse Vader al die eer. Nogmaals baie dankie Ilette Strydom en jou span. Ek salueer julle met julle puik diens!