Self Publisering

 

 

 

 

Soveel is al geskryf oor Self-uitgewery! Sleutel net die woorde “Self Publishing” of “Self-uitgewery” op die soekprogram (google) in en al die inligting is op jou vingerpunte!

In ‘n neutedop beteken dit dat die skrywer betrokke is by elke stap in die proses om ‘n boek in die mark of op die boekhandelaar se rak te plaas:
Stap 1.  Skryf
Stap 2.  Proeflees
Stap 3.  Uitleg
Stap 4.  Boekomslag
Stap 5.  Druk en Bind
Stap 6.  Verspreiding.

Redes om Self-uitgewer te wees

Eerstens hoef jy niemand anders behalwe jouself te oortuig dat jou boek gepubliseer behoort te word nie en jy is uiteraard die kenner op die gebied!
Tweedens sal jy weet of jou boek ‘n leemte vul en wanneer dit suksesvol is, stel dit jou in ‘n beter posisie om die (1) tantieme met ‘n groter uitgewer te onderhandel of (2) beheer oor die verspreiding te behou en ‘n groter wins in jou sak te steek.
Derdens is jou boek gedruk binne enkele weke nadat dit geskryf is.
Vierdens kan jy bloot skryf om ‘n erfenis na te laat sonder wins as oogmerk.

Stap 1. Skryf

Skryfkuns
Die boek is uit die aard van die saak die kern waaroor Self-uitgewery gaan. Alhoewel sommige skrywers staat kan maak op hulle talent, voeg dit waarde by die boek om die fynere kuns van skryf te verstaan en toe te pas. Gaan kyk o.a. na die volgende webwerwe vir verskeie kursusse en wenke:

Opstelling
Die boek word waarskynlik in Microsoft Word geskryf wat die proeflees en redigering daarvan  vergemaklik. Begin egter deur die bladsye korrek op te stel. Die bladsye in ‘n A5 boek is 148.5mm breed en 210mm hoog met 15–20mm spasie tussen die inhoud en die vier kante van die bladsy. ‘n A4 bladsy is 210mm breed en 297mm hoog met dieselfde kantspasies. Lettertipe wat normaalweg gebruik word is “Serif” wat beteken die lettertipe het kop- en voetstukkies wat lees kan vergemaklik.  “Sans serif” beteken dus sonder die kop- en voetstukkies wat wel vir opskrifte gebruik kan word.  Oorweeg dus lettertipes soos Century Schoolbook, Baskerville, Garamond of Goudy Old Style.

Numering van die bladsye, tot voor die eerste hoofstuk, word normaalweg in Romeinse syfers gedoen en daarna begin hoofstuk 1 op bladsy 1. Onewe nommers is aan die regterkant. Wanneer ‘n boek uit 100 bladsye bestaan beteken dit 50 blaaie weerkskante gedruk en genommer bv. Romeinse syfers i-iv en die res van boek genommer 1–96.

Eerste Bladsy – Titelblad
Die Titel, Skrywer en Uitgewer se naam verskyn hier,

Tweede Bladsy – Algemene inligting
Die woord “Kopiereg” en/of die Kopiereg simbool © tesame met die uitgewer se adres en kontakbesonderhede verskyn hier. Daarna die datum, maand en jaar, van die eerste druk en die datums van enige herdrukke.

Die ISBN nommer (International Standard Book Number) kan deur Groep 7 voorsien word of aangevra word by:
The National Library of South Africa
ISN Agency, Posbus 397, Pretoria 0001
Tel. 012 401 9718, Faks: 012 324 2441
Epos: ISN.agency@nlsa.ac.za, Webwerf: http://www.nlsa.ac.za

Die volgende bewoording dien as voorbeeld vir die omskrywing van die kopiereg: “Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat- of bandopname, mikroverfilming of enige ander stelsel van inligtingsbewaring.”

Gee gerus ook erkenning aan persone wat die bladuitleg of omslagontwerp / buiteblad gedoen het en in die geval van fotos, waar en deur wie dit geneem is.

Die drukkers se naam en adres word laastens bygevoeg.

Derde Bladsy – Inhoudsopgawe

Vierde Bladsy – Erkenningsblad
Erkenning word hier aan enigeen gegee wat behulpsaam was, inset gelewer het of jou ondersteun en gemotiveer het met die skryf van jou boek.

Vyfde Bladsy – Opgedra
Spesiale inligting word hier geplaas bv. indien die boek opgedra word aan ‘n persoon wat die inspirasie tot die skryf van die boek was.

Sesde Bladsy - Voorwoord
Die voorwoord of inleiding kan geskryf word om die agtergrond te skets wat aanleiding gegee het tot die publikasie van die boek. Die voorwoord kan ook die skrywe van ander (bekende) persone wees wat reeds jou boek gelees het.

Hoofstukke begin daarna op die eerste onewe bladsynommer. Normaalweg begin elke opvolgende hoofstuk op die regterkant.

Stap 2. Proeflees

Familie en vriende wat kennis het, kan van onskatbare waarde wees om die boek te proeflees en insette te lewer. Verdere waarde kan tot die boek gevoeg om die taalversorging deur ‘n professionele taalkundige te laat doen. Kontak ons gerus daarvoor by Groep 7 of die volgende webwerwe:

Stap 3. Uitleg

Die uitleg van die boek word in ‘n program soos Indesign of Pagemaker gedoen. Die tipe drukproses wat gebruik gaan word bepaal dan ook hoe die uitleg gedoen moet word. Groep 7 se grafiese kunstenaars doen professionele bladuitleg maar dit sluit nie uit dat jy (of jou vriend!) dit kan doen en die dokument in Indesign, Pagemaker of drukkwaliteit Pdf (portable document format) aan ons voorsien. ‘n Proef word daarna deur Groep 7 uitgedruk wat jy afteken alvorens met die druk van die boek begin word.

Stap 4. Boekomslag

Die boekomslag bly altyd baie belangrik aangesien dit bepalend kan wees of ‘n leser die boek gaan optel om verder ondersoek in te stel al dan nie. Indien iemand in jou vriendekring die omslag kan ontwerp kan dit kostes bespaar. Groep 7 se grafiese kunstenaars gebruik Corel Draw en het die kennis en ondervinding om jou droomomslag die lig te laat sien!

Stap 5. Druk en Bind

Buiteblad
Die buiteblad word normaalweg lithografies gedruk op 300g/m2 geseëlde (coated) papier en ‘n vernislaag word daaroor gedruk om dit te beskerm en ‘n glans afwerking te gee. Die buiteblaaie kan volkleur of een of twee pantone kleure gedruk word. Volkleur drukwerk word met 4 kleure gedruk nl. CMYK oftewel “Cyan, Magenta, Yellow and Key Black”  Die uitleg word in ‘n program soos Corel Draw gedoen wat die 4 kleure kan skei, plate word gemaak en elke kleur apart gedruk. Die opstellingskoste is dus duur om klein hoeveelhede buiteblaaie te druk, maar die eenheidskoste word minder wanneer groter hoeveelhede gedruk word. Klein hoeveelhede buiteblaaie word dus deur ‘n laserdrukker gedruk.

Inhoud
Die inhoud kan op 115g/m2 – 130g/m2 geseëlde papier of op 80g/m2 – 90g/m2 bond papier gedruk word. Beide kan in die lithografiese proses gedruk word en die kwaliteit is besonder goed maar die eenheidprys is duur vir klein oplae soos verduidelik is met die drukproses van die buiteblaaie.

Digitale druk kan gedoen word deur laser drukkers vir baie klein hoeveelhede en kan beide tipes papier benut. Die eenheisprys bly egter dieselfde ongeag die aantal boeke wat gedruk word.  Digitale druk kan ook deur Riso drukkers gedoen word, alhoewel slegs bond tipe papier gebruik word. Die voordeel hiervan is egter dat dit baie koste-effektief is vir klein tot medium oplaag boeke en die eenheidskoste verminder met groter oplae.

Boeke kan swart of volkleur gedruk word in al drie die drukprosesse.

Bind metodes
Saalkram <100 bladye. A4 boeke word op A3 gedruk, gevou en op die vou met 2 kramme op die buiteblad vasgekram. Op dieselfde wyse word A5 boeke op A4 papier gedruk, gevou en gekram. Die voordeel is dat die boek plat lê wanneer dit oopvou.
Perfect bind >80 bladyse. Hierdie is die normale proses vir boeke en word met warm gom in die buiteblad gebind en vorm ‘n hoekige rugkant.
Hardebandboeke > 60 bladsye. Die boek word onafhanklik gebind en gesny, die hardeblad met die volkleur papier oorgetrek waarna die boek in die omslag ingebind word. Die eenheidskoste per boek bly dieselfde ongeag die hoeveelheid boeke en is ‘n duur proses.
Draadringbind. Enige hoeveelheid bladsy kan so gebind word en die blaaie kan dus heeltemal omvou. Dit is ideal vir opleidingsmateriaal en werksboeke.

Stap 6. Verspreiding

Soveel faktore speel egter ‘n rol in die suksesvolle verspreiding van jou boek, dat dit bepaald ‘n volgende uitdaging is en verskeie kanale gevolg kan word. Groep 7 voorsien jou op hierdie stadium van hulp en inligting om die groot taak aan te pak.

Met 5 tot 5 000 boeke in jou hand is jou droom bewaarheid
en kan jy as Self-uitgewer jou mark ontgin en bedien.