Ernie Mellet

  • Ernie, vertel ons ‘n bietjie oor jou agtergrond:

    Ek is, as die oudste van drie kinders, op die pragtige Bolandse dorpie, Montagu gebore. Toe ek Graad 7 voltooi, is my pa na Kaapstad verplaas. Hy was ‘n passasiers- en goederebusbestuurder by SAS+H. Ek voltooi matriek en werk 6 jaar by Nedbank voordat ek meer avontuur soek. Voorsitter van VCSV (80 lede). Werk vir 37 jaar by die SAUK. Radio Buite-produksies en -uitsendings soos sport, openbare geleenthede en kerke. Die laaste 4 jaar konsentreer ek op koor- en musiek-opnames vir uitsending en CD; veral die Kaapse Filharmonies Orkes. Begin draf op 38 jaar oud vir 25 jaar. Later Voorsitter van Tygerberg Atletiekklub (Padhardloop). Inisieer wedlope en word wedlooporganiseerder. Doen onder andere 2 Comrades, 100 marathonne waaronder 23 Twee Oseane Ultra’s (‘n Klubrekord). Inisieer die Sandveld Halfmarathon en Aartappelfees wat vir 16 jaar op Redelinghuys gehou word.  Aan die einde van 2008 tree ek af in Suurbraak historiese sendingdorpie (20km oos van Swellendam) om gemeenskapswerk te doen onder die 3000 baie arm inwoners. Stig Suurbraak Aksie Netwerk in 2009 en ‘n ATKV Tak in 2011. Doen veral toerismebevordering, staproetes, dorpfeeste, skoolvasvrae en ander projekte met inwoners.

    Hoe het jou skryfloopbaan begin?

    Ek het ons VCSV se Nuusbrief gedoen en later 88 (32 bladsye) Nuusbriewe vir die Atletiekklub met 200 lede. Romanskryf kom baie laat by my. In 1981 voltooi ek uiteindelik Die Dood het Agt Pote, ‘n speurgriller. Die eerste uitgewer, Perskor, aanvaar dit vir hulle Klub 707. Moeder…dis Obed! ‘n Bybelse spanningsroman word eers as suksesvolle toneelstuk en daarna as roman verwerk. Toring van Versoeking, ‘n sielkundige riller word voltooi en as ‘n daad van onnoselheid, publiseer ek dit saam as Trilogie van Spanning in 2004. Dit is voor selfpublikasie eintlik begin het, en ek sukkel met verspreiding.

    En daarna?

    Ek word vryskutfotojoernalis vir tot 4 koerante rondom Suurbraak.  Suurbraak vier in 2012 sy 200-jarige verjaardag. Die “amptelike” herdenkingsboek is ‘n ramp en ek voer 120 onderhoude met inwoners en publiseer my eie weergawe met baie foto’s, Vetlampie se Tyd in 2012. Ek krap ook in my Stowwerige Laaie (en bokse) en ons voer Moeder…dis Obed! weer op. Ek begin wonder of daar nie ook ander skrywers is wat skryf vir Stowwerige Laaie nie… skrywes wat waarde het en in die openbaar hoort. Stig die Amateur Skrywers Bond (met 8 mense waarvan net drie skrywers is) in Junie 2013. Begin, as Hoofraadgewer, gratis redigering van gedigte en kortverhale vir enige skrywers doen (soos nou nog). Gee raad en wenke.  Ons eerste Skrywerswerkswinkel is in Augustus 2013 in Suurbraak met 20 skrywers. Dit word opgevolg met WW’s in Stilbaai, Caledon, Stellenbosch, McGregor, Brackenfell en Pretoria. Ek doen 16 artikels vir ‘n Suidkaapse koerant oor Skryf. Aan die einde van 2014 verskyn Storie Skryf is Lekker! Dit bevat die hooftrekke van die artikels en die werk van 23 nuwe Afrikaanse digters en skrywers. In 2015 en 2016 ontvang die ASB Merietetoekennings van die ATKV vir Taalbevordering. Ons ledetal groei stewig tot die huidige amper 200 skrywers vanoor die hele SA en oorsee. Besluit om voluit te gaan in 2017 toe 4 jaar se werk uitloop op die verskyning van Riglyne vir Amateurskrywers (300 A4 bladsye) met 176 kortverhale en gedigte van 58 Afrikaanse skrywers. Hersien my drie romans en laat hulle ook druk omdat ek glo dat hulle meriete het.

    En wat is nog in die pyplyn?

    Ek dink ek is klaar met romans en tevrede met wat ek gedoen het. Ek geniet dit nou baie meer om kortverhale en gedigte te skryf en ander skrywers te help. Nog Werkswinkels en Skryf/Boekfeeste word in die vooruitsig gestel. Ek sal waarskynlik in 2018 nog ‘n bundel met kortverhale en gedigte publiseer in alle tipes Afrikaans met my eie en ander ASB lede se werk. Dit is die beste manier om onbekende skrywers in die kalklig te probeer kry.

    Ernie by Nico Vermeulen (88), ‘n verlangse familielid wat hy, na 66 jaar, weer ontmoet het by die Skrywerswerkswinkel in Pretoria. Ernie help Nico om sy debuutdigbundel, Diep Gedelf, in 2017 te voltooi met 100 van sy 500 gedigte!

Vir bestellings:

Kontak ons

 

Neem kennis: Epos of bel asb. vir 'n afspraak.

Tambotiweg 776, Kameeldrif-Oos
Roodeplaat, Pretoria

Aanwysings: Vanaf die N1, neem die Cullinan afrit, rigting na Cullinan (R513). Draai links op die R573 (KwaMahlanga/Moloto) en volg die pad vir 5 km. By “Mooipoort Golfbaan” bord, draai LINKS op die teerpad en hou reguit aan vir 3km op die grondpad. Groep 7 (wit bord) is links geleë.

 

©2019 Kopiereg Groep7 Drukkers