Juliette Whelpton

Resensie: Helde met Hoewe-reeks

Hierdie kosbare kultuurskat, geskik vir lesers 9 jaar en ouer, bestaan uit drie boeke getiteld Bokkie, Fleur en Dapper en is historiese avontuurverhale wat uit die bekke van die perde van generaals Koos de la Rey, Christiaan de Wet en Louis Botha vertel word. Die trio eer die onbesonge perdehelde waarvan 500 000 tydens die Anglo-Boereoorlog omgekom het. “’n Boer het nie twee voete nie, maar ses: twee van ’n man en vier van ’n perd. Daar is net een manier om hierdie oorlog te wen, en dit is met perde. Beweeglikheid tot elke prys!”

Die boeke bevat interessante inligtingsbrokkies, gedigte (bv. A.G. Visser se Voorslag), liedere (bv. die Transvaalse Volkslied) en waardevolle ou swart-en-wit foto’s. Deur die oë van perde beleef die leser veldslae, leer oor die gebeure rondom die ABO, soos bv. die Verskroeide Aardebeleid en guerrilla-oorlogvoering, en ontmoet figure soos Paul Kruger en Louis Botha. Al ooit gewonder hoe het die Boere die telegraafboodskappe onderskep wat die Britte vir mekaar gestuur het? Die skrywer het noukeurig navorsing gedoen en ook kers opgesteek by professore Fransjohan Pretorius en Jackie Grobler om historiese korrektheid te verseker.

Enigeen met ’n liefde vir diere en die geskiedenis sal aanklank vind by hierdie uitnemende werke. Whelpton, ’n perdekenner en –liefhebber, verwoord die perde se gedagtes en emosies op ’n outentieke manier. Sy is ook die stigter van Healing Hooves, ‘n perdondersteunende terapeutiese fasiliteit, waar spanbousessies aangebied word en perde en kuns persoonlike groei en ontwikkeling by mense aanmoedig en uitdagings soos PTSV en depressie aanspreek.

Whelpton gee op ’n besondere wyse erkenning aan die rol van perde in ons geskiedenis. ’n Lys geskiedkundige plekke is bygevoeg vir diegene wat op die perde se hoefspore ’n reis in die verlede in wil neem. Hierdie reeks is van onskatbare waarde en ek gaan my kopieë soos goud bewaar.

Resensie deur Louise Viljoen (‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai)

Die boeke – ook vertaal in Engels as Heroes with Hooves – is te kry by Graffiti Boeke, Protea Boeke en sommige Exclusive Books, Bargain Books en PNA’s of direk by Groep 7 Drukkers:

Besoek gerus ook

Kontak ons

 

Neem kennis: Epos of bel asb. vir 'n afspraak.

Tambotiweg 776, Kameeldrif-Oos
Roodeplaat, Pretoria

Aanwysings: Vanaf die N1, neem die Cullinan afrit, rigting na Cullinan (R513). Draai links op die R573 (KwaMahlanga/Moloto) en volg die pad vir 5 km. By “Mooipoort Golfbaan” bord, draai LINKS op die teerpad en hou reguit aan vir 3km op die grondpad. Groep 7 (wit bord) is links geleë.

 

©2019 Kopiereg Groep7 Drukkers